10
April
2014

GWM, trotse wieleborg van kykNET se Kokkedoor

Go Back: News

GWM is trots om aan te kondig dat dit die amptelike wieleborg van die tweede seisoen van kykNET se baie gewilde kosprogram, Kokkedoor, is.

"Kokkedoor en GWM pas perfek," verduidelik Hannes Oosthuizen, GWM se produkbestuurder. "Nie net het die Afrikaanse gemeenskap ons produkte met ope arms ontvang nie, maar net soos Kokkedoor gemik is op avontuurlustige families, so ook is GWM is produkreeks."

Die tweede seisoen van Kokkedoor (Huisgenoot Tempo-wenner vir Beste TV-reeks - Aktueel of werklikheid 2013) is vanaf 10 April terug op DStv kanaal 144.

Volgens kykNET het Kokkedoor 'n revolusie in kulinêre kringe veroorsaak met sy nostalgiese aanslag tot kook. Ons ryk Suid-Afrikaanse kosgediedenis dien as die basis van die weeklikse tema’s en uitdagings waar elke span wat bestaan uit 'n Onthoukok en Kinkel-kok meeding vir die gesogte titel van Kokkedoor. Sjef Nic van Wyk en Hetta van Deventer-Terreblanche is weer beoordelaars en word weekliks bygestaan deur gesogte sjefs vanuit Suid-Afrika. GWM verskaf ook tans 'n H5 aan Nic van Wyk vir gebruik tydens sy gewilde "verkyn/verdwyn" restaurant by die groot Afrikaanse kultuurfeeste, soos nou onlangs by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

Mariëtta Kruger, die aanbieder van Kokkedoor en duiwels advokaat hou weer die deelnemers op hul tone en gee leiding met elke uitdaging. Bekendes wat 'n draai kom maak in die Kokkedoor-stoor op Prins Albert sluit in; Snotkop, Brümilda van Rensburg, Sonja Herholdt, Pieter Veldsman en Emsie Schoeman.

Op 10 April ontmoet ons die nuwe deelnemers wat meeding vir die titel van Kokkedoor in 'n spesiale 90 minute aflewering. Die program sal weer na sy uur format skuif vanaf 17 April.

Die wenners van Kokkedoor II stap nie net weg met die gesogte titel van Kokkedoor nie, maar kontantpryse ter waarde van R250 000, 'n kookboekkontrak met uitgewers Human en Rousseau asook 'n spoggerige GWM C20R.

GWM ondersteuners kan 'n ogie hou op die maatskappy se Facebook (GWM South Africa) en Twitter bladsye (GWMSouthAfrica) vir opwindende Kokkedoor-verwante kompetisies. Daar sal ook binnekort GWM inhoud op die gewilde Kokkedoor app wees, met ry-indrukke van GWM se produkte deur niemand anders as die Groot Kokkedoor... Nic van Wyk.

Categories: News